Is ‘n e-posopdrag ‘n geldige testament

Dit kan moeilik wees om by te bly met jou ‘admin’, veral wanneer jy besig raak. Ons vergeet soms om aandag aan belangrike take te gee, of dit nou ‘n bestuurslisensie is wat hernu moet word of die belastingseisoen wat op hande is. Iets wat nooit tot môre uitgestel moet word nie, is die opstel van jou testament.

Die dood van ‘n geliefde is ‘n verpletterende ervaring, wat selfs meer spanningsvol is as die geliefde nie ‘n geldige testament in plek gehad het nie.

Sodra jy enige bate besit, selfs ‘n spaarrekening by ‘n bank, behoort jy dit te oorweeg om ‘n testament op te stel. ‘n Testament maak dit vir jou moontlik om die laaste woord te spreek oor wie jou bates ná jou dood moet erf. As jy nie ‘n testament het nie, kan al jou bates onder jou gesins- en familielede verdeel word ooreenkomstig die Wet op Intestate Erfopvolging, en dit is dalk nie wat jy wou hê nie.

Dus, wat presies moet ‘n testament insluit? In die lig van die skuif na digitalisering in die meeste bedrywe, kan ‘n opdrag wat per e-pos gegee word uit ‘n regsoogpunt ‘n testament uitmaak?

Hier is ‘n paar basiese riglyne:

  • E-pos, ‘n gedrukte dokument of WhatsApp-stempos? Jou testament moet gedruk of per hand geskryf word en deur jou en twee getuies onderteken word.
  • E-handtekeninge (of digitale handtekeninge) is ‘n moderne ontwikkeling en word algemeen aanvaar vir gewone kontrakte, maar word nie aanvaar wanneer dit by testamente kom nie. Jy kan egter die Hooggeregshof nader om ‘n bevel te verkry wat nie-nakoming verskoon as jy kan bewys dat dit die oorlede se bedoeling was dat die testament geldig moet wees en dat hy of sy die dokument opgestel het. Maar ‘n elektroniese testament is oor die algemeen tegnies ongeldig. As jy hof toe gaan, kan die regskoste R20 000 tot R50 000 beloop en die aansoek kan ook teengestaan word deur moontlike intestate erfgename wat nie by die testament ingesluit is nie. Oor die jare het ons howe egter ‘n bereidwilligheid getoon om buigsaam te wees waar die reg
    geskied.
    • Jy hoef nie ‘n datum op die testament aan te bring nie, maar dit word sterk aanbeveel. Regtens moet alle testamente wat ‘n persoon al ooit opgestel het aan die Meester van die Hooggeregshof oorhandig word wanneer daardie persoon sterf. Indien daar geen datums is nie, hoe sal jy weet watter testament die jongste een is?

Per slot van rekening moet die hof oortuig wees dat ‘n dokument wat deur ‘n oorlede persoon opgestel is, bedoel was om sy of haar testament te wees. Ongeag die formaat van die testament, kan die hof beveel dat die dokument aanvaar moet word vir die doeleindes van die bereddering van die oorledene se boedel. Jy moet egter voorbereid wees. Dit kan ‘n lang en moontlik duur proses wees. Maak liewer seker dat jy die Wet op Testamente ten volle nakom.

Selfs al is daar geen familiepolitiek oor wie jou bates sal erf nie, is ‘n regsproses van een of ander aard nodig om dit aan die nuwe eienaars oor te dra. Jou familielede kan dus nie net ‘oorvat’ waar jy opgehou het nie. Die regsproses kan baie lank neem as jy nie behoorlik deur jou testament hiervoor beplan het of ‘n professionele eksekuteur benoem het nie.

Johan Mitchell – Senior Financial Planner

Landline:  +27 21 947 3096
Cell Phone:  +27 838673672
Email:johan.mitchell[at]sanlam4u.co.za
2 Strand Street, Bellville, 7530

Leave Comment